Skoollied

Daar is ‘n dorpie stil en mooi geleë,
Reg in die hartjie van die ou Transvaal.
Voortrekkers na hul moeitevolle weë,
Het hier eens uitgespan en afgesaal.
Waar in die son oeroue rotse gloei,
En geurig soet alom die doringbome bloei.
Hier het ‘n held gesneuwel dus
Dra ons sy naam POTGIETERSRUS.

Daar is ‘n hoërskool waar ‘n jonge skare,
Ons Volk se hoop en toekoms vlytig werk.
Hier word gesaai reeds in ons jeug se jare,
In ons die liefde vir ons God en Kerk.
Geesdrif vir elke skoonste ideaal,
Vir Wetenskap en Kuns, vir Land en Volk en Taal.
Ons doen ons bes daarvan bewus
Dis vir jou eer: POTGIETERSRUS.

En as ons eenmaal wyd en syd verstrooi is,
Ons bly aan jou met hart en siel getrou.
En of die wêreld elders nog so mooi is,
Die eerste plek vir ons sal jy behou.
Geen ander oord sal ons ooit so bekoor,
Geen ander naam so soet weerklink ooit in ons oor.
Ons leef en streef in leed en lus,
Ons stry vir jou: POTGIETERSRUS.

Geskryf: Ds J.O.H. Baumbach
Getoonset: T. Wedepohl